Theodemy.com

“Ek sny myself”

Groeiende bloedkreet onder tieners

Jongmense se noodkrete

Elke mens verwerk traumatiese gebeure verskillend.  By sommige kan trauma (in Grieks letterlik ‘n oop wond) ’n blywende uitwerking hê wat op die langtermyn ‘n duur tol eis.  Ofskoon hierdie tipe aspekte meestal verbloem word, moet vele jongmense (selfs van ‘n prille jeug af) met ‘onnoembare’ probleme worstel – molestering binne die gesin of familie, seksuele teistering, verkragting.  In gewelddadige samelewinge is ander vorme van mishandeling ook aanwesig: fisiese geweldpleging, verbale, emosionele of sielkundige aanranding en dies meer wat alles emosioneel en geestelik verwerk moet word.  

Effektiewe verwerking hang daarvan af of daar vir so ‘n lydende jongmens ‘n ondersteunings raamwerk en begeleiding bestaan.  Waar en wanneer hulp intervensies ontbreek neem vele jongmense hul toevlug tot ’n vorm van ‘selfhelp’ of ‘self-medikasie’ wat alles behalwe help, maar inderwaarheid self-destruktief is. Deur hulself fisies te skend (mutileer) probeer die betrokke persoon eintlik maar om die innerlike pyn te verlig.

Self-mutilasie word gevolglik vir die beoefenaar ‘n korttermyn oplossing omdat dit skynbaar ‘n uitkoms bied, verligting bring en selfs ʼn valse gevoel van beheer gee.  Sommige kry ʼn gevoel van lewe, maar dit kan eindelik die dood beteken. Self-mutilering sou gevolglik as ‘n noodkreet om  hulp beskryf kan word

 

Hoe lyk self-mutilasie of selfbesering?

Self-mutilasie  “self-sny” is  ʼn morbiede vorm van ‘self-help’ wat in die meeste gevalle ʼn desperate poging is om die eie emosionele toestand te probeer verlig of te verander.  Ofskoon dit soms so mag lyk, is dit egter nie ʼn poging tot selfdood nie.  Self-besering is feitlik sonder uitsondering gekoppel aan diep emosionele verwonding en die algemeenste vorme daarvan sluit die volgende in, naamlik:

  • om jouself te sny of kerf
  • brand
  • hare uitpluk
  • jouself te slaan of met iets aanrand
  • oormatig krap
  • eie bene doelbewus breek, ens.  

 

Wat sê die statistieke?

Dit is  ʼn probleem wat die afgelope aantal jare al meer prominent binne die wêreld van sowel jongmense as jong volwassenes geword het. Daar is bykans nie ʼn jongmens wat nie bewus is of iewers van die fenomeen gehoor het nie. Verder is die effek van self-mutilasie volgens alle aanduidings besig om toenemend uit te kring.

In 2006 is aan die Princeton en Cornell Universiteite ’n omvangryke studie rakende self-mutilasie gedoen en meer as 3000 studente het daaraan deelgeneem.  Die statistiese bevindinge hieruit het aan die lig gebring dat ongeveer 17% (een uit vyf meisies, en een uit sewe mans) hulle op een of ander stadium tot self-mutilasie gewend het.  Binne die Suid-Afrikaanse konteks dui statistieke daarop dat 10-15% tieners self-mutilasie toepas.  Dit is moontlik nie ‘n ware syfer nie vanweë die stigma en skaamte wat aan self-sny gekoppel word.  

Internasionale navorsing dui daarop dat self-mutilasie onder jongmense binne die ouderdomsgroep 13-15 jaar eskaleer.  By adolessente wat in psigiatriese inrigtings opgeneem is, het geblyk dat tussen 40-80% by self-mutilering betrokke was en heel waarskynlik is selfs hierdie syfer net die seekoei se ore.   

 

Die rol van musiek lirieke, elektroniese speletjies en die Internet

Die meeste jongmense weet van ander wat by self-mutilasie betrokke is.  Daar word onder portuurgroepe vryelik oor die fenomeen gepraat, talle webbladsye fokus hierop terwyl dit ook in verskeie televisieprogramme en musiek lirieke aan die orde is.  Ook in die rolprentwêreld ontvang self-mutilasie gereeld aandag. Alhoewel dit seker nie ‘n ‘gewilde’ genre sou wees nie moet dit nie uit die oog verloor word watter groot bydrae die enkele rolprente wat wel die fokus hierop plaas,  tot die toename van self-mutilasie onder tieners speel nie. Die volgende drie rolprente kan as voorbeelde vermeld word:

Secret Cutting (Painful Secrets)

In hierdie rolprent word die ontstellende en groeiende verskynsel verken van tienermeisies wat by self-mutilerende gedrag betrokke raak.  Die fokus is veral op jong tienermeisies wat vol innerlike pyn en emosionele verwonding is.  Self-mutilasie word dan as die uitweg gesuggereer om van diep oorweldigende gevoelens ontslae te raak.

Thirteen

Hierdie rolprent handel oor dwelms, seks en misdaad en ʼn dertienjarige meisie se verhouding met haar moeder word getoets.  Die prent bevat tonele en dialoog waarin die fenomeen van self-sny verken word.

Cut: Teens and Self-injury

Dit is ‘n dokumentêre rolprent wat ʼn intieme blik werp op die groeiende probleem van selfbesering onder tieners.

 

Ook op die musiek toneel word self-mutilasie bevorder en die tema word byvoorbeeld deur die groep Dark Fortress soos volg verwoord:   

Bleed for me, and I’ll lead you

To a higher ecstasy

Bleed for me, and I’ll lead you

To a deep kind of agony

Only pain…

As the blade feeds my weary flesh again

Only hate…

As the blade seals my contaminated fate

Tempted by emotions

So far away from what you call ‘life’

Unchained wolves

Swallow my soul

Despair is the source of all life

Self-destruction the only way

I choose death to live!

 

Selfs elektroniese speletjies stel tieners aan self-mutilasie bloot en sommige is gratis beskikbaar. The emo game en A Vicious Cycle is slegs twee van vele voorbeelde.  Op die Internet is hierdie fenomeen so problematies dat ouers, opvoeders en geestelike leiers byna nie meer kan tred hou met die eskalasie van die aantal webbladsye wat self-mutilasie propageer nie.

 

Pastorale Ondersteuning

Pastorale beraders, sosiale werkers, die kerk en terapeute oor die algemeen word as gevolg van hierdie probleem met ‘n massiewe uitdaging gekonfronteer. Jongmense wat self-mutilasie toepas moet pastoraal ondersteun, en met empatie tot emosionele en geestelike heling begelei word.  

Bewusmaking en verhoudings bou

Dit behels eerstens die bewuswording van die fenomeen en daaruit voortvloeiend, om met kennis bemagtig te word.  Dit geld veral vir pastorale en sosiale werkers asook jeugwerkers wat baie spesifiek op jongmense gefokus is.

Hierdie kategorie van begeleiers en beraders sal baie deeglik hulself moet ingrawe en op hoogte bring ten opsigte van die basiese vertrekpunte en problematiek asook antwoorde en oplossings met betrekking tot hierdie uiters gekompliseerde probleem. Slegs dan sal daar gevorder kan word in die rigting van heel wording en restourasie in die lewens van emosioneel verwonde en verwarde jongmense wat hiermee worstel.   

Verder is ʼn stewige vertrouensverhouding met die self-mutileerder onontbeerlik. Nederigheid, outentisiteit, aanvaarding en sagmoedigheid gaan hand aan hand met so ‘n verhouding. Gesonde verhoudings binne ’n veilige terapeutiese klimaat is ononderhandelbaar want daarsonder kan ʼn self-mutileerder nie gehelp word nie.   

 

 

(Image Credit: Bloody Razor Blade by SheIsTheSunlight93)

Please follow and like us:
October 18, 2016
© 2016. Theodemy.